The Spammers have been SPAMMED, http://www.ruggaworld.com is back online!
Google

Thursday, December 08, 2005

 

Op 'n manier sal Oom nooit verbygaan nie.


Nog 'n artikel ingestuur deur Boertjie.

Dana Snyman se brief aan Frik du Preez

Beste oom Frik

Ek lees in die koerant oom het Maandag verjaar. Baie geluk.

Oom is al 70, sien ek.

Ek en oom kom 'n lang pad, hoewel oom dit nie eintlik weet nie. Ek was 5 of 6 jaar oud, toe wil ek al soos oom wees. Ek het toe nog nie aan oom as 'n oom gedink nie. Oom was toe net vir my Frik du Preez, die rugbyheld.

Ek onthou in 1971, net ná oom uitgetree het, het Die Huisgenoot 'n Frik du Preez-bylaag publiseer. Ons het toe op Daniëlskuil gewoon, 'n dorpie in die Noord- Kaap. (Dis 'n flippen gatplekkie as oom my vra.)

Die Huisgenoot het eers Saterdae by ons uitgekom, en die Saterdag toe die een met daardie bylaag moes kom, was die afleweringsbakkie laat. Ek het van elfuur die oggend op oom Mike se kafee se trappies daarvoor sit en wag. (Tussendeur het ek darem twee blikkies Groovy-koeldrank gedrink. Ek het ook 'n Walls-roomys geëet en binne-in het ek so 'n kaartjie gekry van John Love in sy Lotus-resieskar.)

Die middag halfdrie toe die bakkie uiteindelik in 'n stofstreep van Postmansburg se kant af kom, het oom Mike my so jammer gekry dat hy vir my 'n spul niekerbôls en daardie Huisgenoot present gegee het.

Oom Mike is al oorlede, oom. En, ja, ek het daardie Frik du Preez-bylaag ook nie meer nie. Ek het wel 'n soortgelyke een wat ek vyf jaar gelede by my vriend Cor Herbst se ma, tannie Tillie, gekry het. Tannie Tillie is intussen ook oorlede.

In daardie bylaag is 'n foto waarna ek steeds soms kyk. Ek dink oom ken daardie foto. Wessel Oosthuizen, wat vir die Citizen werk en ook al oud is, het dit tydens die 2de toets teen die All Blacks op Nuweland geneem. In 1970.

Dis daardie foto waarop oom vir Chris Laidlaw, die All Black- skrumskakel, tackle. Maar oom tackle hom nie net nie: Oom sit so half op sy rug met oom se een hand oor sy mond en oom se vuis teen sy agterkop, terwyl Albie Bates aan Laidlaw se bene hang.

Een middag in 1971 - dit onthou ek goed, oom - het ek en Johnny Vertue, my pêl, besluit om daardie toneel op ons grasperk in 3de Straat te laat herleef. Ons het net gesukkel om iemand te kry om die rol van Chris Laidlaw te vertolk.

Op die ou end kon ons darem vir Mieliepap, ons bure se laaitie (hy was maar dommerig, oom) oorreed om Laidlaw te wees. Ek het my Super Springbok no 4- rugbybal (jy kry hulle nie meer nie) vir hom gegee, en gesê: "Okay, hardloop." En toe het ek hom agterna gesit, want ek was oom, ek was Frik. Kort agter my het Johnny gehardloop, hy was Albie Bates. (Hy het selfs een van sy suster se alice bands as sweetband gedra, want oom Albie het mos altyd met 'n sweetband aan gespeel.)

Naby my pa se rotstuin het ons Mieliepap ingehaal, ek en Johnny: Ek het op sy rug gespring met my hand oor sy mond en my vuis teen sy agterkop, Johnny het aan sy bene gehang.

Mieliepap is intussen ook oorlede, oom. Maar dit was nie van daardie tackle nie, dit was 'n motorfietsongeluk.

Ek weet nie waarom vertel ek dit als vir oom nie: Eintlik wil ek maar net sê die tyd gaan verby, oom. Maar op 'n manier sal oom nooit verbygaan nie.

Wonder oom ook soms waar is al ons helde heen?

Groete
Dana

Met erkenning aan die skrywer en aan Beeld, waar hierdie artikel op
2 Desember verskyn het.


FRIK SE TOETS-STATISTIEKE
38 toetse, 1 drie, 2 strafdoele, 1 doelskop
Eerste Toets: Flank teen Engeland, Twickenham, 07.01.61

Laaste Toets: Slot teen Australië, Sydney, 07.08.71
Comments:
Dana

Ons sal mettertyd weer die helde - uitgesluit Fleckie natuurlik - terugbring.
 
Ek weet nie of ons ooit weer sulke helde sal hê noudat dit die professionele era betree is nie. Hierdie ouens het vir die passie gespeel nie vir geld nie.

Ag wel ons kan net duim vashou en die Bokke onvoorwaardelik ondersteun.

DIE SPRINGBOK SAL WEER NO 1 WEES!!!!
 
Dis 'n fantastiese artikel Kandas

Ek dit met sulke heimwee gelees dat ek amper begin huil het hier in die kantoor.
 
ROBBIE FLECK IS A LEGEND!!!  
DavidS

Dankie maar krediet aan Boertjie. Ons moet nou die u man leer om self sy artikels te plaas. :)
 
Davids
Glad you liked it too!
Ja, dit was 'n ander era daardie - toe Springbokke op toer 'n halfkroon per dag sakgeld gekry het (25c in ons geld).
En hulle sê Chris Koch het nog van sy toelaag gespaar en huis toe gebring :-)
 
ou man :)  
Kandas loves Ig  
Wonderful piece.

Nostalgic day today!

Donner, I fear you might be right, maybe rugby is just different in this era.

It would be interesting to see it through a child's eyes. Do they still feel the way we felt?

Thanks, Boertjie!
 
Post a Comment


<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?