The Spammers have been SPAMMED, http://www.ruggaworld.com is back online!
Google

Sunday, December 11, 2005

 

Kruisig die wrede Springbokke!

'n Artikel deur Boertjie.

'n Terugblik op die toer van 1961

AGTERGROND:
Dirk Kamfer het die Bokke se Britse toer van 1961 vir Die Huisgenoot gedek. Sy boek met 'n versameling van sy werk, Die Elfde Uur, het onlangs ná goed 30 jaar weer in my besit gekom vir 'n heerlike herlees. Die plan is om vorentoe so dan en wan 'n bietjie meer van Kamfer se beskrywing van gebeure te plaas – ter wille van nostalgie, dalk 'n uitbreiding van kennis, maar sommer ook net vir lekker lees. – Boertjie.


"Boe-oe-oe-oe! Boe-oe-oe-oe!!!"

Dit huil soos 'n sterk, koue wind wat deur 'n skreef ingewaai kom oor die paviljoene van die beroemde Cardiff Arms Park. Dit eggo verder weg in die heuwels van Wallis...
En dit gaan deur die murg van vyftien Springbokke daar onder op die veld. Veertien van hulle staan effe verdwaas en ronddtrap. Een kom na hulle teruggestap, en dis op hóm wat die volle woede van die uitjouery soos 'n geut afstort.

Hy is 'n klein kêrel, net vyf voet sewe duim bokant die groen gras van Cardiff Arms Park. Hy is net 21, maar met sy kortgeknipte kuifie en seunsgesig lyk hy baie jonger en sawwer nog. Groot was hy nie, maar die verskil tussen hom en die groot manne is: hy kom vinniger by hulle as hulle by hom.

Nou het hy "die vreeslike ding gedoen". Hy het in volle vaart op die Cardiff heelagter, Priday, afgestorm en die man met bal en al probeer vasdruk. Maar net nadat sy voete die grond verlaat het, het Priday die bal uitgeskop – en Roux se 160 pond tref die heelagter te laat.

Priday val neer soos 'n os by die slagplaas. Sy makkers probeer hom ophelp; die noodhulpmanne kom aangehardloop...

En Mannetjies Roux, Springbok, moet terugstap ... 'n klein postuurtjie teen die stormwind van Walliese woede.

'n Dosyn of meer tikmasjiene begin kletter in die persbank. "Lelike voorval in Springbokke se eerste wedstryd in Wallis ... vuil spel op beroemde Arms Park ... Is dit wat ons van die Springbokke moet verwag?

In Fleet Street begin die monsterperse al vir die vroeë uitgawes rol ...

Priday het voortgespeel, maar in die tweede helfte kom die voorryman Fanie Kuhn te laat by hom aan – en Priday word weer neergevel. En die skare boe. Weer Kamfer op sy beste:

Dieselfde pragtige stemme wat 'n halfuur tevore nog hallelujas meerstemmig gesing het dat die trane by jou oë uitwel – "Brood van die Hemel", "Die Heer is my Herder", "Voorwaarts, Christen-stryders" – dieselfde pragtige stemme skreeu nou, in boe-taal: "Kruisig hulle! Kruisig die wrede Springbokke!"

En nou kletter die tikmasjiene in vierdubbele tempo. Die miljoene moet wéét watter dierlike gedoentes hierdie Springbokke is. En so staan dit in die Britse koerante. Dae lank.

Maar tog is daar onder die gewone ondersteuners 'n soort broederskap wat die meeste dinge oorsien – soos blyk uit Kamfer se verdere vertelling:

Onderwyl die orkaan op sy sterkste loei, stap ek 'n dag of twee later by 'n klein Walliese kroegie in. Daar staan werksmanne by die toonbank. Hulle merk op dat ek 'n vreemdeling is – nee, nie so vreemd nie, want hulle herken die springbokkie op my baadjielapel ...

"Ja," sê ek hardop voor my uit, "ons het gekom om hierdie volkie vrek te maak. Cardiff was die eerste. In óns land eet ons drie naturelle voor ontbyt. Hier moet ons maar die Walliesers eet ..."

Hulle kyk my 'n oomblik vyandig aan – dan lag ons lekker hard, soos manne in 'n kroeg nog mag lag ... en ons is vriende. "Kom hier, Suid-Afrikaner ... drink 'n bier saam met my ... Nee, man, sit weg jou sigarette – rook een van myne."

Nou val hulle oormekaar om verskonings oor Cardiff te maak. "Moet jou nie steur aan die bohaai nie ... Ons voel bietjie skaam ... Dis niks om oor te raas nie ... Ons het self skuld daaraan ..."


Volgende keer 'n bietjie meer oor hierdie toer en die skrywer Dirk Kamfer.
Comments:
die wrede Spring Drake!  
Hmmmmm


One of my friends lived in a little flat in the UK and during a spring clean he came accross a newspaper from the early 70's. The sprts backpage lead with the heading:

"ENGLAND BATTING COLLAPSE"


Some things never change....


Like the "Dirty Springboks" ditty. It has become a precious and aged commodity that the UK press cling to with cherished stupidity.
 
Post a Comment


<< Home

This page is powered by Blogger. Isn't yours?